op die vroue in Suid-Afrika gefokus onder die tema:
Zeichen der Zeit.
Suid-Afrika is aan die wêreld voorgestel - nasionale simbole, tale, mense, natuurskoon, geskiedenis, probleme. Die rol van die Waarheids- en Versoeningskommissie en die stand van sake 10 jare na die aanvang van demokrasie is bekyk. Die kulturele lewe en vroueregte is ondersoek. Daar is kennis gemaak met die land se bekendste persoonlikhede, godsdienste en letterkunde.
Hier in Oostenryk is Suid-Afrika dikwels op kulturele vlak ingetrek. Die Weners is byvoorbeeld ´n maand lank getrakteer op´n hele reeks Suid-Afrikaanse films wat deur die Filmargief voorgestel en vertoon is. Die Alte Schmiede,´n instansie wat kuns, kultuur en letterkunde bevorder, het talle skrywers na Wenen ingevoer en hulle in die Museumskwartier uit hulle boeke laat voorlees. In die teater kon ons die kunstenaars van African Footprint beleef. Vir die vroue in die Wien-Süd (H.B.) gemeente op die Wielandplatz was dié tema besonder interessant omdat daar in hulle kerkgebou elke tweede Sondag van die maand ook´n diens in Afrikaans plaasvind. Hulle het dus noue kontak met een van die vele bevolkingsgroepe in Suid-Afrika en hulle het ons baie vinnig by hulle projek betrek. Op 3 Maart 2006 was ons gemeente dan ook deeglik betrokke by die voorbereiding vir sowel as by die geleentheid self. Die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika is met plakkate aan die kerkgangers voorgestel om die reënboognasie-idee prakties te illustreer. Die Afrikaanse vroue was ook nie links nie en het die besoekers groot plesier verskaf met tradisionele melktert, appeltertjies en wasgoedbondeltjies. Onontkombaar was die trommelgerommel om die diens aan te kondig en, soos Gerda Mlady (Oostenrykse dame verantwoordelik vir die koördinering van die projek) dit later gestel het, was die verrassing van die skielike tromslae oorweldigend, het dit onmiddellike stilte veroorsaak en die stilte na die storm was die ideale afskopplek vir die begroetingslied. Met ´n PowerPoint-voorstelling het Rina Loader die vroue´n beeld gegee van hoe die Christelike Kerke in Suid-Afrika funksioneer. Dit is opgevolg deur ´n preek van Gertrude Rohrmoser waarin sy klem gelê het op die veelbewoë lewe van vroue in Suid-Afrika en hoe christelike gebondenheid ´n oorlewingsfaktor was in die trauma van die voor- en na-Apartheidsjare. Die klem het geval op hoop - hoop geskep deur die geloof in God en hoop op´n positiewe toekoms vir die land self. Hoë waardering was daar vir Sandra Nel (begelei deur Marie-Louise Weissenböck) se aanbieding van die Nasionale Volkslied. Die seremonie het 70 minute geduur. Die lang kerkdiens het niemand egter daarvan weerhou om nog langer in die aangrensende saal te klets, te eet, te drink en nog vele vrae te stel nie. Ook die inligtingsvideo oor die land en sy mense is deur sommige kerkgangers (wat nie te honger was nie) met belangstelling gevolg. Die positiewe gesindheid van die Oostenrykers teenoor die mense en die land kon vir menige ubuntu-aanhanger in Suid-Afrika ´n voorbeeld stel. Verslag en foto´s: R Loader (2006)
|
Marie-Louise, Sandra en Rina het die Afrikaanse gemeente by die erediens verteenwoordig |
Tydens die erediens is baie klem geplaas op samesang |
Ongeveer 90 vroue het die diens bygewoon |