Almal het die wenpaal gehaal - inderdaad van elders geïnspireer Vanaf links agter: Sandra Nel, Marie-Louise Weissenböck, Lizelle de Wit, Sonja Botha, Nadia Krüger en Rina Loader Heel links in die prentjie is ´n paar spanlede van die Wien-Süd met hulle T-hempies (selfgeverf) wat sê dat dié onderneming niks minder is nie as heavenly inspired
|
Al van Nordic Walking gehoor? Vir baie van ons gemeentlede´n nuwe begrip. Maar nuwighede is hierdie kant van die ewenaar ons daaglikse brood. Dus, soos een man het die dapper tantes en nog-nie-tantes besluit om deel te neem aan die jaarlikse Frauenlauf waar duisende vroue van dwarsoor die wêreld opdaag om saam te hardloop en te Nordic Walk. Vir meeste van ons die eerste deelname aan ´n internasionale sportbyeenkoms.
Ons het begin met ´n goeddeurdagte voorbereidingsprogram. Ons het ons laat informeer. Toe stokke gekoop. En goeie skoene. En ander kleertjies sodat ons beter kan lyk. Toe twee maal geoefen. Op 11 Junie aangemeld en ons nommers op onse voorkante gespeld. Tydmeters aan ons skoenrieme vasgewoel. Ons arms en bene gerek, gestrek, verskeie kante toe geknak en gekraak, asemhalingsoefeninge gedoen, ons mae ingetrek en les bes die stokke gepoets en getoets. Dis toe dat Nadia van haar laat hoor het: "Moes ek stokke gebring het?" Geoefen in probleemversorgingstegnieke na soveel jare in Die Vreemde besluit ons op die plek dat sy mos ook sommer sonder stokke kan loop. Die organiseerders het dit gelukkig ook so ingesien en streng bygevoeg dat sy maar kan deelneem maar sy moet weet as sy wen word sy gediskwalifiseer. Ons het Nadia net daar laat afsien van haar ideaal om tog eenmaal op´n internasionale podium te staan en spoggerig lyk en daar was ons span toe volledig. Nog nooit het een van ons aan so´n hottentotsgotparade deel gehad nie. Nog nooit was een van ons in´n wedloop saam met duisend ander vroue met swaaiende stokke nie. En toe die skoot klap skarrel daar twee duisend voete en tweeduisend stokke onder die bome van die Weense woud deur in die rigting van die wenpaal - 5 kilometer verder! Met ons voete, bene, stokke, arms en koppe eindelik onder beheer, soek ons skielik na Marie-Louise en Lizelle en merk verlig die twee wippende blonde kuiwe doer vorentoe besig om almal wat in hulle pad kom te systap. Ons ander pas vir Nadia op want ons wil nie hê dat sy gediskwalifiseer moet word nie ... So in die loop groet ons die mede-susters van Wien-Süd gemeente. Een van hulle deelnemers´n volle 80 jaar oud! Vasbeslote is ons na dié ontdekking - beslis gaan nie een van ons laaste aanmeld nie. Maar ons het mos ook goeie maniere. Hoe sal die inheemses nou voel as ons hulle te ver wen? Dus praat ons oor die weer, drink water langs die pad, gaan die wandelaars verby, slaat bietjie rem aan as ons bekommerd raak dat ons te ver voor is en versnel maar weer as ons deur die draaie is. Ons maal met die stokke dat die teerklippers spat en begroet elke kilometerbordjie met groeiende selfvertroue. Alles met´n plesierige glimlag. Ons kry so´n ekstra versnellinkie as ons reken daar´s ´n bekende gesig in die skare. Uitgelate word hande geklap en aangemoedig en fluitjies geblaas en oor die mikrofone word seker gemaak dat geen stapper se selfbeeld geknou raak deur die ervaring nie. Die uiteinde? Van die byna twintig stappers van onder die Erlöserkirche se dak, wen ons twee witkoppies toe by verre en eindig net so bietjie oor die tweehonderdste van voor af. Ons ander was so iets in die seshonderd en soveelste - nie van agter af nie. By die wenpaal is elke dapper stapper vereer met ´n blommetjie,´n botteltjie water en ´n medalje wat ek beslis gaan raam om eendag vir my kleinkinders te wys. En toe het ons gaan eet. Spareribs. Uit die boonste rakke. Tyd inderdaad goed spandeer. Rina het gelukkig oorleef om die storie te vertel.
|
Bo: Die wenpaal en ´n paar bekommerde mansgesigte Links: Die twee vinnige vroue - Marie-Louise en Lizelle |