Afrikaanse Gemeente Wenen  
 
Die Afrikaanse Gemeente Wenen
Die Afrikaanse Gemeente in Wenen is ´n gewone gemeente van die Protestantse Kerk in Oostenryk en ekumenies van karakter. Dit is, soos die naam aandui, ´n Afrikaanstalige gemeente. Die gemeente het ontstaan vanweë die behoefte by Afrikaanssprekendes in Wenen aan kerklike bediening in  hulle eie taal. Hierdie wens is begrypend deur die Protestantse Kerk in Oostenryk opgeneem en die gemeente word per ooreenkoms tussen die twee Protestantse kerke in Oostenryk en die drie Afrikaanse Kerke as ´n volwaardige gemeente van die Reformierte Kirche in Österreich deur ´n Afrikaanse predikant bedien. Om die name te verduidelik: daar is ´n Lutherse Kerk sowel as ´n Calvinistiese (Reformierte) Kerk in Oostenryk. Eersgenoemde word op grond van ´n ou keiserlike dekreet “AB” (Augsburgse Belydenis) en die ander “HB” (Helvetiese of Switserse Belydenis) genoem. Hoewel die twee kerke onderskeie belydenisskrifte het, werk hulle in ´n oorkoepelende gemeenskap saam en word daarom gesamentlik die “Evangelische Kirche A und HB” genoem, dit wil sê die “Protestantse Kerk van Lutherse en Switserse Belydenis.” Hierdie oorkoepelende samewerking hef egter nie die onafhanklike status en karakter van elk se eie sinodale organisasie op nie.

Die gemeente is op 8 Oktober 2000 as deel van die Reformierte Gemeente Wenen-Suid gestig en het tot 2007 in hierdie vorm bestaan. Toe het die gasheergemeente voorgestel dat die Afrikaanse Gemeente ´n volwaardig selfstandige kerkregtelike status kry, wat in September van dieselfde jaar gebeur het. Van toe af funksioneer die gemeente onafhanklik onder die opsig van die Sinode van die Reformierte Kirche en dié se Algemene Sinodale Kommissie (“Oberkirchenrat”).

Uit die aard van die saak is die gemeente vanaf die stigtingsdatum ´n miniatuurgemeente. Die lidmatetal is normaalweg in die buurt van 40 belydende lede plus die belangrike kontingent van kinders. Vanweë die klein getalle is die finansiële middele ook beperk, maar dit weerhou die gemeente nie daarvan om ons normale diakonale diens te onderhou nie. Verskeie projekte van die Protestantse Diakonie in Oostenryk en van die Reformierte Kirche word deur die Afrikaanse Gemeente ondersteun – sowel in Oostenryk as in Oos-Europa en in Suid-Afrika.

Al is dit op ´n klein skaal, word al die aspekte van ´n normale gemeentelike bediening onderhou. Eredienste met prediking en sakramentsbediening, kategese, pastorale versorging en kerkraadsvergaderings vind reëlmatig plaas. Die gemeente het ook ´n sosiale aspek wat met eredienste en fondinsamelings gekombineer word. Gesamentlike verversings (wat eintlik telkens op ´n ete neerkom!) word ná eredienste aangebied. Die beagtenswaardige kontingent van professionele musici in die gemeente sorg ook van tyd tot tyd vir konserte om die fondse te styf. Braai- of vetkoekdae word met dieselfde doel as ´n tipe miniatuur-basaar gehou.

´n Positiewe aspek van ´n klein gemeente is nie alleen dat almal almal ken nie, maar dat die verantwoordelikheid vir kerklike versorging van mekaar nie deur die predikant alleen gedra word nie, maar in die gemeente gedeel word. Voorbeelde hiervan is die betrokkenheid van ouers by die kategese, veral met die oog op dié Sondae waarop daar nie eredienste plaasvind nie), die besoek van siekes en onderlinge ondersteuning waar nodig. Waar deelname aan aktiwiteite in breër kerklike verband nodig is, word die gemeente deur verskillende lede van die kerkraad verteenwoordig. Op hierdie wyse probeer die gemeente om die algemene priesterskap van die gelowiges tot sy reg te laat kom.

Almal wat hulle vir ´n langer of korter tyd in die stad bevind en graag in Afrikaans kerklik bedien wil word, is hartlik welkom om ons by die adresse en telefoonnommers te kontak wat elders op hierdie webblad vertrek word.