Ek glo in die Vader, die Almagtige
Oor die weerlose kant van God se mag Kan God alles doen? Kan Hy maak dat twee maal twee vyf is? Of dat die Boererepublieke nooit tot ’n val gekom het nie? Of dat die sondeval nooit plaasgevind het nie? Of dat verkeerd reg is? Dit is die soort populêre vrae waaraan mense dink wanneer hulle aan God se almag dink. Miskien laat dit blyk wat mense normaalweg veronderstel wanneer hulle aan God dink. Hierna het professor Adrianus van Selms as “dwase vrae” oor God verwys. Maar dit is nie alleen “gewone” mense wat so oor God dink nie. Die geskiedenis van die kerk en teologie toon dat dit die algemene tendens was om só oor God te dink, naamlik in terme van sy mag en andersheid. Dit het normaal geword om aan God as die “gans Andere” te dink. Natuurlik is Hy die Almagtige, dit wil sê, die Een wat alles kan doen. Dit bely die kerk deur die eeue heen in die Apostolosiese Geloofsbelydenis en in die Geloofsbelydenis van Nicea. Die vraag is egter of dit al is wat ons oor Hom bely. En die antwoord is: Nee.
Een van die invloedrykste teoloë van die twintigste eeu, Karl Barth, het kort ná die Tweede Wêreldoorlog daarop gewys dat Hitler graag van God as “die Almagtige” gepraat het en bygevoeg: “Wie God ‘die Almagtige’ noem, mis God heeltemal”. Hierdie uitspraak word gestaaf deur die ervaring van die laaste helfte van die eeu. Enersyds die toenemende vervreemding van God en andersyds die groei van binne-Christelike charismatiese sowel as buite-Christelike esoteriese geloofsvorme toon al hoe duideliker dat mense God nie meer so kan beleef nie. Dit is een rede waarom ons aan hierdie Godsvoorstelling aandag moet gee. ’n Ander rede is dat dit nie altyd so was nie. Nie in die kerklike geloofsbelydenisse nie en ook nie in die Bybel nie. Daar was altyd diegene wat op ’n tweede aspek gewys het, ook al is hulle nie altyd gehoor nie. So is dit ook in die Niceense Geloofsbelydenis.
Die teks van die Belydenis
“Ons glo in ... die almagtige Vader” lui Artikel Vyf van die Nicenum. En die Apostoliese Geloofsbelydenis begin: “Ek glo in God die Vader, die almagtige Skepper van hemel en aarde”. Die Latynse teks van die Apostolikum laat ruimte daarvoor dat mens “almagtige” as byvoeglike naamwoord kan opneem en kan sê: God se almag is iets sekondêrs, iets wat maar net bygesê word. Dit is egter nie noodsaaklik nie en in die Niceense teks onmoontlik. Die Griekse teks lui hier: “Ons glo in ... die Vader, die Almagtige/Almaghebber”. Twee selfstandige naamwoorde. God is die Vader én Hy is die Almagtige. Albei begrippe is ewe belangrik.
Mens sou kon dink dat hierdie uitspraak dit juis moontlik maak om God se almag te beklemtoon en dat die opvatting dat ons net met ’n sekondêre byvoeging te doen het, die oorbeklemtoning daarvan op ’n heilsame manier ondermyn. Maar dit is nie so nie. As mens onder al die eienskappe van die Vader net sy almag uitsonder, sou die Belydenis beteken: Onthou, wat hierdie Vader ookal anders is, Hy is almagtig. So sou sy almag juis uitermate beklemtoon word. Neem ons die Nicenum se Griekse teks ernstig, dan moet ons ’n komma gebruik om te wys ons het hier met twee hoofbegrippe te doen: Die Vader, die Almagtige. Albei staan langs mekaar. Die een is nie belangriker as die ander nie. Waar die teologie in die verlede die almag van God beklemtoon het, moet ons nou leer om sy vaderskap te beklemtoon – nie om die almag oorboord te gooi nie, maar in ewewig te hou.
Natuurlike teologie
Wie aan God as die Almagtige wil dink, het nie die Bybel nodig nie. Die mens kan uit die natuur aflei dat daar ’n almagtige wese is. In hierdie rigting dui ook die ekumeniese geloofsbelydenisse, waar die Almagtige met die Skepper geassosieer word. Iemand wat só ’n heelal tot stand kon bring, móét geheel-en-al magtig wees. Ook die natuur binne-in ons, ons logika, maak dié gevolgtrekking moontlik. Die logika verg dat ons met begrippe soos “oneindigheid” werk – onoortreflikheid in afstand, tyd en so aan. Dus ook met die begrip “onoortreflike mag”. So het heelwat van die bewyse vir die bestaan van God ook gewerk. Daarvan is die Godsbewys van Anselmus uit die elfde eeu seker die bekendste: God se bestaan kan afgelei word uit ons vermoë om aan ’n onoortreflike wese te dink. Dit is hoe die natuurlike teologie werk. Ons kan met ons natuurlike vermoë alleen, sonder die openbaring van die Bybel, aan God dink. Karl Barth het veel van sy kragte daaraan gewy om die natuurlike teologie te bekamp, maar daarom ook nie die bydrae gelewer wat juis hy sou kon om die oorbeklemtoning van die almag teen te werk nie. Dit pas ons om vandag veel versigtiger te wees en nie die kind met die badwater uit te gooi nie. Die waarheidsaspek van die natuurlike teologie is die beklemtoning van God se oneindigheid, ewigheid, alomteenwoordigheid, ondeurgrondelikheid – kortom, sy almag.
Maar: Dit is net die een kant van die belydenis.
Openbaring
Daar staan ’n ander begrip daarby. God is nie net die Almagtige nie, Hy is ook die Vader. Op hierdie gedagte kan mens egter nie deur waarneming van die natuur en eie logika kom nie. Daarvoor het ons ’n openbaring nodig, ’n bekendmaking van wat nie uitgedink kan word nie. Waarom? – Omdat die beeld van ’n vader soveel aspekte bevat wat mens nie met die sterke Maghebber in verband sou bring nie.
Die voorstelling van ’n vader pas goed by die feit dat Hy ons tot stand gebring het (die Skepper, wat in die volgende artikel van ons belydenis voorkom), dat Hy hom ontferm soos ’n vader met sy kinders doen (Ps. 103:13) en daarom ’n sterk beskermingsfiguur is. Maar die vaderbeeld is ook en veral ’n emosionele beeld. ’n Vader is een wat sy kinders liefhet. En daarom is hy ’n weerlose figuur. Sy liefde stel hom bloot aan kommer, seerkry, ontsteltenis en opoffering vir sy kinders. As die belydenis Hom dan as die Vader voorstel, kom al hierdie aspekte ter sprake. Daarom is dit juis chauvinisties om te beweer dat ons ook oog vir die sagte, moederlike kante van God moet kry. So asof vaderskap die “harde” kant en die moederbeeld die “sagte” kant van God sou verteenwoordig. Hoewel dit verstaanbaar is dat vroue ook aan vroulike aspekte in die Godsvoorstelling behoefte het en dat daar in die Bybel heelwat hiervan voorkom (God is volgens Mat. 23:37 selfs ’n hoenderhen), gaan die idee dat sy Vaderskap alleen sy “sterk” of “manlike” kant sou uitbeeld, eenvoudig nie op nie. Iemand wat so dink, weet nie wat die wese van vaderskap is nie. ’n Vader is by uitstek ’n weerlose figuur wat blootgestel is aan die hardheid van vaderskap en wat die uitwerking daarvan ondergaan. ’n Vader is nie net aktief nie. Hy is ook passief, hy voel wat hom aangedoen word.
Dit is hierdie soort vader waarvan die Niceense Geloofsbelydenis praat. Hoe ons dit weet? – Vanaf Artikel Tien kom ’n hele reeks uitsprake oor die Seun van God, Jesus Christus. Hy is gebore, het neergedaal, het stoflik geword, ’n mens geword, gely en gesterwe. Omdat God die Vader van hierdie Seun is, is Hy ook ons Vader. So het God uit die afgesonderde majesteit van sy almag getree en naby gekom, só naby dat Hy Homself verneder het en weet wat swaarkry is. Geen mens dink so ’n sterk figuur uit nie. Dit word nie uit die natuur of deur die logika afgelei nie. Maar dit staan wel in die Bybel. Oral.
In die Nuwe Testament
In Filippense 2:6-8 kom ’n klassieke beskrywing voor van hoe die Seun die Vader deur vernedering, knegskap, gehoorsaamheid en dood naby aan die mens gebring het. Jesus wys kragdadigheid af al het die Vader die mag daartoe (Mat. 26:52-53); Hy kruip eerder weg as om met mag koning gemaak te word (Joh. 6:15); sy koninkryk is nie van dáárdie soort nie (Joh. 18:36); Hy word deur ander maghebbers bespot (Luk. 23:11) en weggelei na waarheen húlle wil (Luk 23:26); aan die kruis hang Hy, van God verlate en magteloos om Homself te red (Mark. 15:31, 34). Dit is maar net ’n paar verwysings, maar die hele gang van die Nuwe Testament loop in dié rigting. Dit is die hart van die Christelike geloof. Daarom het die kruis ook die sentrale simbool van die Christendom geword.
In die Ou Testament
Maar ook die Ou Testament is vol van sulke verwysings na God. Seker die aangrypendste in die hele Bybel is die vaderbeeld van Hosea 11. Hier word God voorgestel as ’n vader wat met deernis oor sy liefde vir sy kind praat. Hy dink terug aan die tyd toe Israel nog ’n kleutertjie was – hoe Hy hom geleer loop het, gedra en versorg het. Nou beantwoord die kind nie sy liefde nie. Al wat God kan doen, is uitroep: “Hoe kan Ek jou prysgee, o Israel?” Dit is ’n retoriese vraag. God kán dit net nie doen nie. Daarom neem Hy die pyn, die verwoesting in sy eie omgedolwe hart op (Hos. 11:8). Reeds in die paradysverhaal (Gen. 3) hoor ons hoe die mens die vryheid wat God hom gee, misbruik om teen God in opstand te kom. En so gaan die hele geskiedenis voort. God red Israel in sy liefde uit die slawerny, maar hulle kerm aanmekaar oor wat Hy hulle aangedoen het (Num. 11:1, 4; 14:1-3; Deut. 9:7). Hy moet ervaar hoe hulle Hom verwerp (Eks. 32) en gee dan maar weer toe as Moses Hom nie wil “laat staan” nie (Deut. 6:13 e.v.). Die hele gang van Israel se geskiedenis is ’n verhaal van die mislukking van God se plan vir hulle. Hy probeer met profete, met waarskuwing, met tugtiging, maar moet dan maar weer deur sy profete by hulle kla oor hulle hardheid teenoor Hom (Mig. 6:1-5) en oor die gebrek aan eerbied vir Hom as Vader (Mal.1:6). Weer: ’n Vader kry nie alles na sy sin nie. Gód kry nie alles na sy sin nie. Nie alles wat gebeur, is sy wil nie.
Ewewig in Skrif en Belydenis...
Natuurlik is die Ou Testament ook vol van uitsprake oor die mag en majesteit van God. Selfs van die verwysings hierbo bevat sulke elemente. Ons hoef maar net te dink aan sulke liedere soos Psalm 24 oor die aarde en sy volheid wat aan God behoort, die magtige Erekoning, sterk en geweldig in die stryd. Of Psalm 33 oor die mag van God wat by die hele aarde ontsag moet inboesem omdat Hy net ’n woord hoef te spreek om sy wil te laat geskied, soos Elisa geweet het (2 Kon. 6:15-17) en Jesus aan sy dissipels en by implikasie aan Pilatus gesê het (Mat. 26:53; Joh. 19:11). Die skepping van alles uit niks (Gen. 1), die leiding van die aartsvaders (Gen. 12-50) en die verhale oor die verowering van Kanaän (Jos. 1 e.v.) sowel as die geweldige profetiese uitsprake oor die uitsluitlike mag van God in die tweede deel van die boek Jesaja (vgl. Jes. 45:5-7) is magtige getuienisse hiervan. In die Griekse Ou Testament word dieselfde woord as in die Niceense Geloofsbelydenis gebruik waar van God as die “Sterke” of “Almagtige” gepraat word. Daarvan weet ook die die Nuwe Testament goed (vgl. 2 Kor. 6:18, waar eweneens dieselfde Griekse woord gebruik word; Gal. 6:7; Heb. 10:31; 12:29). Dit is die kant van God wat volgens die ou Israeliete pahad, ontsag, oproep. Hierdie kant van die Godsvoorstelling is baie belangrik. Dit is ook baie gevaarlik. Wanneer ons dit oorbeklemtoon, dit wil sê, wanneer ons Godsvoorstelling daardeur oorheers word, word God net ’n krag. ’n Opper-Iets. Dan word Hy “die” Almagtige, ’n model vir menslike magswellus.
Dit word in die Niceense Geloofsbelydenis teengewerk deur die twee hoofbegrippe naas mekaar te handhaaf. Die weerlose Vader hou die almagtige Opperheer in ewewig. Of beter: ons metafore vir God (want ons kan net in metafore of beelde oor Hom praat) hou mekaar in ewewig. Die vader-metafoor vir God bring ’n ander Israelitiese begrip na vore: die hesed van God. Dit is ’n omvattende idee waardeur God se liefde, sorg, trou, lojaliteit, verbondenheid en selfoorgawe uitgedruk word. Hierdie kant van die Godsvoorstelling is net so belangrik. Dit is ook net so gevaarlik. Wanneer ons dit ten koste van die pahad oorbeklemtoon, dan maak ons Hom ’n soort Eli wat sy kinders nie van hulle eie verderf kan weghou nie (1 Sam. 2:22-25). ’n Onder-god. Dan word Hy die model-voorwerp van verwonderingslose gemoedelikheid.
Die manier hoe die Niceense Belydenis dit teenwerk, is om die twee woorde “Vader” en “Almagtige” direk langs mekaar te plaas. Die een is nie ondergeskik aan die ander nie, maar albei werk in op mekaar. Dit weet eksegete baie goed: As woorde so in mekaar se teenwoordigheid gebruik word, dan beïnvloed hulle mekaar, hulle begrens die maniere waarop ons hulle kan gebruik. God se almag kan nie verselfstandig word sodat Hy ’n soort magsdemoon word nie, en sy weerlose vaderskap kan nie verselfstandig word sodat Hy ook nie ’n Reddergod kan wees nie.
... en in eietydse nadenke oor God
Die Christendom integreer in sy Godsvoorstelling hierdie twee kante van God. Hoewel die teologie én die populêre voorstelling dikwels te veel klem aan die almag gegee het, was daar ook andere wat tot ’n ewewig bygedra het. Hieronder tel ook ’n Hervormde tradisie uit Nederland. Onder die sogenaamde “Etiese Teoloë” het denkers soos Daniël Chantepie de la Saussaye en J.H. Gunning die mag en majesteit van God in hierdie idioom vertolk. Ook die teologie van Karl Barth, wat in die Suid-Afrikaanse tradisie soveel invloed gehad het, het in hierdie rigting beweeg, maar vanweë die konteks van sy eie tyd het hy dit nie breed genoeg vir óns tyd uitgewerk nie.
God oorwin deur sy neerlaag. Sy magtige majesteit eis die handhawing van sy heiligheid. Daarom eis sy geregtigheid straf vir die aantasting daarvan. En sy vaderlike liefde eis die behoud van sy kinders. Daarom neem Hy die straf in Homself op soos Hosea sê, daarom gee Hy Homself prys. En juis so oorwin sy liefde. Dit is waaroor die res van die Niceense Belydenis gaan. Dit is waarom ons in oorstelpte aanbidding voor Hom kan buig én ons in wederliefde in sy arms kan werp.
James Alfred Loader